Hamburg Rathaus/Stadsaal

Hamburg Rathaus/Stadsaal
Om die draai van waar ek werk in Hamburg

Saturday, March 20, 2010

Warm groete uit koue Hamburg

Liewe Vriende,

Hopelik vind die boodskap julle goed! Ek bevind myself tans in Hamburg, Noord Duitsland en deel graag 'n paar staaltjies met julle. Vir die van julle wat gewonder het, dis winter hier... ( en hopelik besef elke Sokker Wêreld Beker toeskouer dis nie somer as hulle kom nie... ) en my kolegas het my gewaarsku en aangeraai om n ekstra trui of twee saam te bring - maar min kon my meer voorberei vir die guurste winter in dekades in Europa!

My koms was net na die groot sneeu neerslag en gelukkig was die aanloopbane al in werking. Met my vertrek uit Kaapstad laat in Januarie op n warm Vrydagaand het ek en al 48kg se bagasie op Lufthansa se Frankfort vlug geklim, en dit natuurlik na ´n groot tranedal, en nee ek het nie besigheids klas gevlieg nie en ook nie 'n sent meer betaal nie; die agtermekaar Duitsers laat ´n ekstra klomp gewig toe vir sport bagasie, en ek het my sneeu plank en kie saamgevat!

As inwoner van Kaapstad vir die grootste gedeelte van my lewe wou ek nog altyd op een van daardie helikopter-ritte gegaan het wat gedurig vertrek uit die Waterfront (en dan wonder mens altyd; waar gaan hy heen? Seker nie vêr nie.) en dan om Kaappunt vlieg en dalk êrens stop vir 'n kaas en wyn piekniek, maar die geleentheid het my nog nie te beurt geval nie...

So, ek klim toe niks vermoedende aan boord van die groot staal arend en neem my stuurboord venster sitplek in. Ons stuig op in die rigting van Antarktika en wragtig waar hou die Duitser vol in die rigting! Ek kon my oë nie glo nie! Hy vlieg met ons BAIE laag reg rondom die hele Kaappunt! Die vlerk effe gekantel na regs (dalk omdat almal met hulle kameras kom hang het aan ons kant) en ek beantwoord net vrae soos 'n wafferse toergids!

Ek sit langs n Australiese koekie smous... hy het paar kliënte kom spreek in Kaapstad en was op pad om te gaan uitstal by 'n fyngebak konferensie in Köln (of Cologne, waar ek self ook 'n week of wat terug was, maar meer daaroor later...). Baie beïndruk met Kaapstad, maar hy was nie so gelukkig soos ek met die inboek van sy bagasie nie. Met sy koms uit die Ooste het hy nie 'n probleem gehad met ekstra gewig nie, maar die keer het die tannie hom voorgekeer en aangeraai om 'ligter' te word... hy pluk toe sy tas oop, nooi 'n paar omstanders nader en deel koekies uit! Kan jou net indink hoe dit gelyk het!

Wel, na min regop-sit-en-slaap kom ons in Frankfort aan, waar ek 2 ure later 'n aansluitings vlug neem na Hamburg. Woensdag voor my vertrek sit ek en my dame, Chanel, in Ocean Basket en begin gesels met die tafel langsaan (Dis nou die mense by die tafel langsaan), nadat ons bestelling 'n bietjie omgeruil was, en ontmoet Matthias, 'n Duitser, wat heel toevallig op die selfde vlug as ek is, en ons bespreek toe 'n koffietjie af op Frankfort lughawe. Weereens berei hy my voor vir die koue, gee raad oor my rit verder en gesels ons land en sand.

Na 'n effense gespook (met die 48kg natuurlik), kom ek by die treinstasie waar my verhuurder my sal ontmoet na ek haar, Regina, bel. Ek het haar laat verstaan dit behoort so elfuur te wees, en elfuur, klokslag soos 'n Duitser, bel ek haar... maar sy antwoord nie... Vir die van julle wat vergeet het, dis diep in die minus, en ek wag! Ek trek later 'n ekstra paar duk sokkies aan (te danke aan die Du Preez's) en my woltrui. En ek bel, en ek wag. Later sien die Afgaan wat die naby kiosk bestuur my nood raak, en toe ek vir my tweede duur koppie koffie kom vra, laat hy my toe om vir slegs 5 minute binne te staan en wag! Ek keer terug na die gevriesde podium en na nog 'n paar herhaaldelike oproepe antwoord die tannie! Sy was uit op 'n stappie, aangesien dit so mooi wit gesneeu is en die lug so vars is!

Ten spyte van die eenkeer se vergeet van die rooi gebrande Suid Afrikaner, kom ons baie goed oor die weg en is ek hartlik verwelkom in my nuwe tuiste! Ek bly so entjie buite Hamburg, en ons dorpie is omring deur plase. Die huis self, was vroeër 'n watermeul gewees, en is dus reg langs die rivier gebou. Soos ek hierde neer pen, kyk ek uit oor die dam (wat uiteindelik ontvries het), vol eende en voëls en luister ek na die gedruis van die water wat stroom deur die sluis. Die foto's gee 'n idee van hoe dit lyk vanuit my kamervenster. Dis genoeg om my te motiveer om te gaan draf!

Volgende keer vertel ek julle meer van my huismaats, vele ander stories en staaltjies! As julle gewonder het, ek mis Suid Afrika en sy mense, maar vir nou is ek hier en geniet ek elke oomblik terdeë!

Groot liefde groete aan julle almal,
Neville

ns: as jy weet waar Dawid die wortels begrawe het, dan sal jy nooit honger ly nie...